En nou: die dae sonder ‘n moeder

Sleutelwoorde

, ,

Toe is my ma weg die naweek na Moedersdag.

Ek was hierdie jaar vir die eerste keer in jare nie op Moedersdag by my ma nie, want ek het reeds reëlings getref om die naweek daarna Johannesburg toe te vlieg vir ‘n besigheidsaangeleentheid. Ek het gedink dit sal nie saak maak as ons Moedersdag ‘n week later vier nie; haar geskenkie was reeds in my tas – die skulpies en strandklippies wat ek haar belowe het. Maar ek was verkeerd en een week te laat.

Met die afklim van die vliegtuig af laat die Vrydagmiddag het ons ‘n boodskap gekry dat dit “nie goed gaan” met my ma nie en ons is direk van die lughawe af na die ouetehuis toe. In haar bed het sy gelê met haar oë styf toe, ‘n klein bondeltjie mens, so lig dat ek haar kon optel om die komberse om haar los te draai. Ek wou die komberse afhaal om te sién, te weet dat dit my ma was.

Sy het nie gereageer toe ek met haar gepraat het nie, ook nie toe ek met my vingers op haar borsbeen getrommel het nie. Ek het gedink dat ek haar ooglede moes oopmaak, sodat sy my kon sien en wakker word. Watter mal gedagte! Toe ek my hand op haar wang gesit het, het dit koud gevoel, so glad en styf soos was. Tog het haar bors nog op en af gedein – waar daar asem was, moes daar tog nog lewe wees? Ek het aangehou met roep, totdat ek besef het dat ek die ander pasiënte steur.

Ek het haar weer toegevou in die komberse en met die saalsuster gaan praat. Ek wou hê dat sy moes sê my ma het net ‘n slegte dag gehad, dat sy weer sou beter word, en sy hèt probeer om die wete te verlig met haar woorde. Ek wou net nie die waarheid in haar oë raaklees nie.

Was my besluit om te gaan inboek by die hotel en die volgende dag weer terug te kom onnosel of in opstand teen die feit dat ek diep binne-in my geweet het dat my moeder sterwend was? Niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie en nie wil verstaan nie. Sy is oorlede kort nadat ons by die hotel aangekom het.

Nou sit ek en wonder: Het sy geweet dat ek by haar was? Het sy vir my gewag om te kom? Hoekom het ek haar nie behoorlik gegroet nie, of langer by haar gebly nie? Hoekom het sy nie net lank genoeg gewag om eenkeer weer met my te praat nie?

Sy het ‘n dagboek nagelaat, een wat sy geskryf het in die tydperk net nadat sy in die ouetehuis ingetrek het. Ek het nog nie die moed gehad om dit te lees nie.

Ek het 63 jaar lank ‘n moeder gehad.

Hierdie was my laaste “wit strikkie” Moedersdag; volgende jaar moet dit ‘n pers strikkie wees.

Moedersdag

Sleutelwoorde

, , , ,

My liewe Ma,

Oor drie dae is dit Moedersdag. Weet jy dit? Sal jy agterkom dat ek nie by jou is nie? Toe ek Sondag gebel het, het ek die vertwyfeling in jou stem gehoor. Jy het nie geweet wie ek is nie, het jy Ma?

Ek onthou, toe ek nog in die huis was, het ons met op Moedersdag elkeen ‘n strikkie gekry by die deur van die kerk: ek het ‘n wit strikkie gekry, omdat my ma nog leef, jy het ‘n pers strikkie gekry omdat jou ma, my ouma, reeds oorlede is. Ek onthou ook, Ma, hoe jy altyd reg deur daardie kerkdiens gehuil het, sulke groot, blink traandruppels wat teen jou wange afgestroom het. Ek het altyd gewonder of ek ook sou huil wanneer ek die dag ‘n pers strikkie sou moes dra op Moedersdag.

Ons twee het nog altyd ‘n ongemaklike verhouding gehad. Wat is dit wat tussen ons gestaan het? Die streng dissipline wat in ons huis gehandhaaf is? Die feit dat ek halsstarrig my eie pad wou loop? Ek het darem toe nie so sleg uitgedraai nie soos wat jy gevrees het nie, ten spyte daarvan dat ek nie die model-dogter was waarvoor jy gehoop het nie.

Kaapstad: foto geneem deur een van die straat-fotograwe. Ek was ongeveer elf jaar oud.

Kaapstad: foto geneem deur een van die straat-fotograwe. Ek was so tien jaar oud, my ma drie-en-veertig.

Ons verhouding het ook nie juis verbeter deur die jare nie. Ek dink ons het altwee hard probeer, maar ons was voortdurend in ‘n stryd gewikkel: Ma wou my vashou, ek wou wegkom.

Namakwaland: Hier was ek 19 en my ma 54. Dis geneem net voordat ek die huis verlaat het.

Namakwaland: Hier was ek 19 en my ma 52. Dis geneem net voordat ek die huis verlaat het.

Vroeër in die week het ek en my dogter met laaggety op die strand gaan loop en ek het die pragtigste ronde spoelklippies opgetel. “Sou jou ouma nog kan Moertjie speel?” vra ek vir haar. Sy skud haar kop, want ons weet albei dat Ouma se geheue nie meer daar is nie. Haar ouma het haar geleer om hierdie speletjie te speel toe sy nog ‘n klein dogtertjie was.

My dogter moes seker my gedagtes gelees het, want sonder waarskuwing gee sy vir my hierdie pragtige geskenk vir Moedersdag: “Ma, ek het vandag nie ‘n steek gewerk nie, maar ek het iets baie beters gedoen. Ek het die tyd op die strand saam met my ma geniet”.

Ek sal probeer om dit te onthou, Meisiekind. Ek weet jy sal.

Ma, ek kan nie hierdie Moedersdag by jou wees nie, maar ek sien jou volgende naweek. Ek bring vir jou klippies saam wat ek opgetel het op die strand. Ek onthou nog.

As die ou peperboom kon praat …

Sleutelwoorde

, , , , ,

‘n Inskrywing wat ek gister gelees het, het my skielik laat dink aan die dag toe ek en my ma ‘n peperboom gekoop het. 1

peperboom3

Lees voort

Nou is sonde ook nie meer sonde nie

Sleutelwoorde

, , , , , ,

Vanoggend net na sonop gaan stap ek en my dogter langs die strand. Toe ons die uitgang deur die bos bereik en die kalm branders voor ons sien breek, en die son wat blink oor die water in die riviermonding, wonder ek ietwat afgetrokke oor die skepping van hierdie perfekte natuurskoon.

See

Lees voort

Die koshuisbrak

Sleutelwoorde

, , , ,

SANY0018Ek het gister my ma vir die eerste keer weer gaan besoek nadat sy in die nuwe ouetehuis opgeneem is. Bykans drie weke het verloop vandat ek haar laas gesien het. In die motor op pad daarheen, het ek gewonder of sy my sou herken. En ek het gewonder hoe sy sou reageer – bly om my te sien? ontsteld omdat ek vir so ‘n lang tydperk nie daar was nie? sou sy my herken?

Lees voort

Alles wat haar hande gedoen het

Sleutelwoorde

, , , , ,

Hands

My ma was ‘n knap vrou waar dit by handwerk gekom het: brei, hekel, klere maak, haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Terwyl sy onlangs hier by my kuier, sit ons en kyk na ou foto’s. Ek wys ‘n foto uit van haarself waar sy twee gebreide poppies, verlede jaar by die ouetehuis se kermis gekoop, in haar ou hande koester. “Ai tog”, sê sy, “Ek het mos darem altyd mooi hande gehad; kyk nou hoe lelik en dom het hulle geword.”

My ma het vele van hierdie selfde soort poppies gebrei vir die siek kindertjies in Durban se Addington hospitaal totdat sy in haar tagtigerjare was, maar daarvan het sy al vergeet. Sy het vir my en haar kleindogter poppe gebrei en klein poprokkies gemaak. Nog lank voor dit het sy jare lank haar eie en haar hele gesin se truie gebrei. Ek onthou hoe sy altyd in die aand voor die kaggel en later die elektriese verwarmer gesit en brei het, die naalde al flitsende in die lig. Nou het die ou hande vergeet hoe om die breinaalde vas te hou en die steke te vorm.

Sy wys met ‘n kromgetrekte ou vinger na die gehekelde kleedjie op die tafel voor ons en sê-vra: “Dis ook een wat ek gehekel het, nie waar nie? Ek en my suster het by my ma geleer handwerk doen. Het jy geweet dat jou ouma ‘n opgeleide naaldwerkster was wat die mooiste manspakke gemaak het? Elke Nagmaalnaweek het die ou boere van die plase af dorp toe gekom om te trou of hulle kinders te laat doop en dan het jou ouma vir hulle kerkpakke gemaak; soms tot diep in die nag gesit en naaldwerk doen by lamplig, want dit was een van die vele maniere waarop sy ‘n geldjie verdien het om haar kinders te voed en te klee.” Nee, ek het dit nie geweet nie, want ek het nie my ouma geken nie; sy is dood nog voordat ek skool toe gegaan het.

Naaldwerk

Ek onthou wel my eie ma waar sy met haar ou Singer trapmasjien, by my ouma geërf en waarin my pa later ‘n elektriese motortjie ingebou het, ure lank gesit en klere stik het. Sy het al my klere gemaak, van my babaklere tot my rokkies waarmee ek universiteit toe is en daarna begin werk het. Ek wys vir haar ‘n foto van een van die pragtige blommemeisie rokkies wat sy vir my gemaak het. My ma was bekend vir haar naaldwerk en ek is ‘n paar keer gevra om ‘n blommemeisie te wees by troues toe ek so vyf, ses jaar oud was. “Omdat ek so oulik was”, spot ek. “Nee, dis omdat ek nooit geld aanvaar het vir hierdie rokkies wat ek vir jou gemaak het nie”, lag my ma. Dit was ‘n groot werk met baie detail waarvan die meeste per hand aangebring is. Sy het alles self gemaak, die rok, die skoentjies, die blommeruikertjie, die kransie vir die hare.

Sy het elke draad klere wat syself gedra het, met haar eie hande gemaak, tot sowat tien jaar gelede. My ma was lief vir klere maak en sy het graag mooi aangetrek. Ek onthou hoe sy haarself uitgedos het elke Sondagoggend vir kerk, kompleet met kerkhoed wat sy òf self gemaak òf gekoop en toe opgetoffie het. Dan het sy, trots op die aantreklike man aan haar sy en dogtertjie met ‘n popmooi rokkie aan, in die kerkpaadjie afgeseil met wit handskoentjies, elegante hoëhakskoene en bypassende handsakkie.

Verlede week het sy na ‘n ander ouetehuis toe getrek, nader aan my broer en sy vrou, wie nou grotendeels haar versorging gaan waarneem. Ek trek na ‘n ander provinsie toe en daar is nie geskikte geriewe vir my ma nie.

My ma het tasse vol klere; sy het nooit gekoopte kledingstukke verdra nie en het goed voorsiening gemaak vir die dag wat sy nie meer self haar eie klere sou kon maak nie. My dogter en ek versorg haar ouma se klere vir oulaas, elke draad waarvan sy self gemaak het in haar ‘jonger’ dae, om in te pak vir die trek. Elke kledingstuk word met sorg gewas, gestryk, los knope aangewerk en nate heelgemaak. Ek let op dat sy wel in onlangse jare so hier en daar herstelwerk aan die klere gedoen het. Die knope is egter skeef aangewerk, pas nie altyd bymekaar nie en die steke is onnet. Ons maak dit vir haar reg, want die ou hande onthou nie meer hoe om die werk te doen nie.

Ons sorteer haar persoonlike besittings uit: briefies wat sy geskryf en vergeet het om te pos, kaartjies wat sy ontvang het vir haar verjaardag en op Moedersdag, identiteitsdokumentasie, begrafnispolis, haar laaste instruksies aan my in verband met haar eie begrafnis. Tussen dit alles vind ek ‘n afskrif van my pa se begrafnisbrief. Ek wonder vir ‘n oomblik watter spesiale boodskap ek sou kies vir my ma se begrafnisrede en wat by my opkom is ‘n versie op een van die vele kaartjies wat sy versamel het:

Honor her for all that her hands have done, and let her works bring her praise at the city gate. Proverbs 31:31. (Holy Bible, New International Version).

Daarby sal ek my eie gedagtes voeg: Ma, jou hande sal altyd vir my mooi wees, want dit bevat al die spore van ons lewens, getuienis van die harde werk en die vele vreugdes wat ons sal onthou en oordra aan ons eie kinders.

‘n Haircut vir Krismis

Sleutelwoorde

, , ,

In my kinderjare was dit mode vir dogtertjies om lang hare te hê, kort hare was die uitsondering. Oral in die strate, kerk en skool het klein dogtertjies met sulke netjiese stywe vlegseltjies en windmaker haarlinte rondgewip.

Lees voort

Ek woon in ‘n tronk

Sleutelwoorde

, ,

My ma is, na al die jare wat sy in die ouetehuis woon, nog steeds ontevrede met die feit dat sy nie kan kom en gaan soos sy wil nie. Sy haat ook die feit dat haar roetine beperk word, wat in haar geval beteken dat sy op sekere tye moet bad, op vasgestelde tye medikasie kry en in die eetkamer moet gaan eet.

Lees voort

Kaalgat die gang af

Sleutelwoorde

, ,

Een groot vrees wat my bloots gery het in die tydperk toe my ma by my ingewoon het, was dat sy in die badkamer sou gly en val.

Lees voort