Sleutelwoorde

, ,

Bejaardes sal soms oorboord gaan in hulle poging om beheer te behou oor hulle lewenswyse en hulle laaste kosbare aardse besittings te verdedig, met geweld indien nodig.

Die ouetehuis waar my ma inwoon, laat toe dat inwoners slotte aan hulle kasdeure sit om diefstal te voorkom, want in so ‘n inrigting is daar tog maar altyd persone met lang vingers. Die bejaardes self is ook soms geneig om hulle mede-inwoners se eiendom vir hulleself toe te eien, omdat hulle werklik meen dat die item aan hulle behoort. Ek het by geleentheid twee of drie brille in my ma se laaie gekry en dan moes ons ‘n daadwerklike poging aanwend om die ware eienaar op te spoor.

Ek het vir my ma ‘n ordentlike sterk stel slotte met drie sleutels elk gaan koop. Sy het een van die sleutels gekry, wat sy aan ‘n ketting om haar nek gedra het, om seker te maak dat sy dit nie verlê nie, ‘n tweede sleutel is in die ouetehuis se kluis bewaar in geval van nood en die derde sleutel het ek in my besit gehou.

Die ketting om die nek het nie verhoed dat my ma se sleutel ‘n paar keer weggeraak het of ‘gesteel’ is nie, net om daarna binne-in een van haar skoene, onder haar matras of binne-in haar kussingsloop opgespoor te word. Soms was die sleutel in die kas toegesluit en die slot toegedruk, wat beteken het dat die personeel die kas moes kom oopmaak. Op die een of ander manier het die sleutel wat in die ouetehuis se kluis gehou is in my ma se besit gekom, heelwaarskynlik gedurende een van die tye wat haar eie kopie ‘weggeraak’ het. Daarna het ek die een oproep na die ander gekry, enige tyd van die dag of nag, om my sleutel te bring om die kas oop te maak.

Ek het ‘n paar keer die slot laat vervang en die volgende stel sleutels uitgedeel, totdat ek my humeur verloor en my ma se sleutel weggevat het. Indien sy nou enigiets nodig gehad het, moes sy die personeel vra om die kas oop te sluit en agterna weer toe te sluit. Natuurlik het dit ekstra werk veroorsaak vir die personeel en hulle het gewoonlik vroegoggend en laatmiddag die kas oopgelaat vir ‘n tydperk waartydens sy haar kaste kon regpak en die items uithaal wat sy nodig het.

My ma was hewig ontsteld oor die feit dat sy nie meer vrye toegang tot haar besittings gehad het nie en het heel gou ‘n plan bedink om hierdie beperking te omseil. My ma was, ten spyte van haar jare, fisies nog verbasend sterk en baie vindingryk. Tot ons verstomming het sy enige skerp voorwerp wat sy in die hande kon kry, haarnaalde, skêre, teelepels, breinaalde en wat nog, gebruik om die slotte oop te forseer. Die slotte wat ons gekoop het, was duur en van ‘n goeie gehalte. Hoe op aarde sy dit oopgekry het, was altyd vir ons ‘n raaisel, maar professionele inbrekers sou ‘n paar lesse by haar kon neem.

In die proses om die slotte oop te forseer, het sy egter ‘n paar keer haarself beseer. Bejaardes se vel raak baie dun, hulle doen maklik blou kolle en beserings op en ons moes telkens ontsmettingsmiddels en verbande aandra na die ouetehuis toe. Teen hierdie tyd was ek taamlik moedeloos en het die personeel gevra om liewer die kaste oop te los. Ek kon verstaan dat my ma nie gelukkig was daarmee dat sy geen beheer oor haar eie besittings gehad het nie, want daar het reeds weinig oorgebly van haar privaatheid en die paar goedjies waaraan sy vasgeklou het.

Binne enkele dae egter, het haar besittings onverklaarbaar begin wegraak, onder meer haar polshorlosie, pantoffels en broodnodige bril. My ma het histeries daarop aangedring dat die ouetehuisbestuur aangespreek word oor alles wat ‘gesteel’ word. Sy het egter nog steeds geweier om toe te laat dat die personeel in haar kamer of kaste ‘krap’, met die gevolg dat hulle ook nie toegelaat is om ‘n behoorlike ondersoek in te stel na die verlore items nie. Dit was vir my doodeenvoudig makliker om dit te vervang.

Nadat ons elke item reeds ‘n paar keer vervang het en die ouetehuis my op ‘n dag laat weet het dat my ma se onderklerevoorraad baie skraps geword het, het ek en my dogter ondersoek gaan instel. Ons het die kaste, onder groot protes en trane deur my ma, leeggemaak en behoorlik reggepak. Soos ons kon voorspel het, was daar duplikate van alle items wat oor die afgelope maande ‘weggeraak’ het. Wat ons egter verstom het, is dat die ‘gesteelde’ items, insluitende die vermiste onderklere, weggesteek was onder haar matras, binne-in haar skoene, in die holte onder die onderste laai van die laaikas, in haar baadjie- en jassakke, onder in die mandjie waarin haar vuil wasgoed geplaas moet word en enige ander hoekie of gaatjie waaraan jy kan dink. Dit het ons ‘n hele naweek gekos om alles uit te sorteer, netjies reg te pak en die duplikaat items te verwyder. Daarna het ons geweet van al die wegsteekplekke en wanneer iets ‘gesteel’ was kon ons dit binne minute opspoor.

Ons het begin om gereelde ‘klopjagte’ uit te voer. Tot my uiterste ontsteltenis het ons, by een so ‘n geleentheid, nie net die verlore goedere op die gewone wegsteekplekke gevind nie, maar daaronder of daarin toegedraai was glase vol water, gebreekte glasstukke, skerwe van haar spieël wat soek geraak het, gebuigde breinaalde, stukkies lap met naalde daarin en nog ‘n paar ander vindingryke booby traps wat sy vir die ‘diewe’ gestel het. Die items was ‘n werklike gevaar vir haarself, asook die ouetehuis se personeel en ander bejaardes. Ons het alles wat sy kon omskep in wapens uit die kamer verwyder. Dit het beteken dat ons ook al haar naald- en breiwerk toerusting moes verwyder, wat natuurlik verdere beperkings op haar gewone bedrywighede geplaas het.

Haar wêreldjie het nog verder gekrimp en hoe meer sy geveg het om beheer te behou, hoe meer vryheid moes sy opgee. Wat ‘n situasie!

Advertisements