Sleutelwoorde

, ,

Die wiel van die lewe draai nie net nie, soms spin hy buite beheer.

My ma het by ons gesin ingetrek toe sy sewe en tagtig jaar oud was en ons lewe is sonder meer in ‘n nuwe wentelbaan gegooi. Ek was agtien jaar oud toe ek en my ma laas in dieselfde huis gewoon het en dit was baie dekades gelede. Die aanpassing was, vir albei van ons, heelwat moeiliker as wat ons verwag het. Tog was daar ook, behalwe die frustrasie wat geskaaf het, humor in ‘n situasie waarvan ons doodeenvoudig die beste moes maak, kom wat wil.

My ma se fisiese gesondheid was altyd besonder goed. Selfs nou, op ‘n baie gevorderde ouderdom, is haar gestel nog sterk. Sy kan nog loop, haar eie bed opmaak en haarself aantrek. Dis net die gedagtes wat soms deurmekaar raak.

Haar emosionele welstand was van altyd af heelwat meer wankelmoedig. Sy was senuweeagtig van geaardheid en voortdurend vas oortuig daarvan dat sy aan die een of ander terminale siekte ly. Ek onthou, selfs uit my kinderdae, in watter mate sy haarself ander mense se siektes aangetrek en haar eie probeer maak het.

So het sy, na die onverwagte afsterwe van ‘n huisvriend as gevolg van ‘n brein-aneurisme, my pa met groot erns probeer oortuig daarvan dat haar erge hoofpyne te wyte was aan gewasse op die brein. My pa, nooit ‘n baie simpatieke persoon nie, wou onmiddellik weet hoekom die gewasse net eenkeer per maand groei? As jong kind het ek nie die verwysing verstaan nie en sou ook nie durf vra nie, maar ek onthou wel dat sy baie vies was omdat hy haar gewaande siektes afgemaak het as ipekonders.

Toe my broer oorlede is na ‘n lang en pynlike lyding aan kolonkanker, was my ma skielik oortuig daarvan dat sy ook ‘n soortgelyke probleem het. Sonder enige vooraf geskiedenis van maagsiektes, het sy nou ‘allergies’ geword vir allerhande kossoorte. My ma was haar hele lewe lank ‘n vrou met ‘n gesonde eetlus en, hoewel sy nooit juis oorgewig was nie, het sy tog ordentlike kurwes gehad. Sy kon net so lekker soos enige ander lid van die gesin weglê aan ‘n gebraaide tjoppie, ‘n lekker yskastert of ‘n bord gekookte kos. Nou het sy skielik begin om ‘n streng dieet te volg en het baie gewig verloor.

Destyds, na my pa en broer se afsterwe, het sy in Durban loseer by ‘n jarelange vriendin, ook ‘n weduwee, wat voorheen alleen gewoon het. Ons woon in Johannesburg en my ma wou nie afstand doen van die lewe en vriende waaraan sy gewoond was nie. Soos die lewe maar verloop, was ons persoonlike kontak taamlik sporadies, beperk tot vakansies en ‘n naweek hier en daar. Ons was dus nie baie betrokke by haar daaglikse versorging nie en aangesien haar mediese ondersoeke geen teken van ernstige siektes aangedui het nie, het ek maar aanvaar dat die ipekonders weer kop uitgesteek het.

Sy het by ons kom inwoon nadat die vriendin by wie sy loseer het, gediagnoseer is met leukemia. Op haar ouderdom is dit nie maklik om verblyf in ‘n aftree-oord te kry nie en daar was niemand anders wat na haar kon omsien nie. Ons moes mooi meet en pas om ‘n familie van vyf grootmense in ons drieslaapkamer huis te laat inpas. Boonop het ek en ons twee volwasse kinders voltyds gewerk, terwyl my man omgesien het na die huishouding met behulp van Emily, ons huiswerker.

My ma was steeds onder die indruk dat haar gesondheid swak was en sy het aangedring op spesiale versorging. Sy het geweier om enigiets te eet behalwe hawermoutpap vir ontbyt, opgekookte groentes saam met ‘n stukkie hoendervleis waarvan die vel verwyder moes word vir middagete en droë beskuitjies of brood vir aandete. Enigiets anders was te ‘ryk’ vir haar gestel.

Ons was ook verslae oor die verskeidenheid van medikasies wat sy gebruik het en die verskillende boererate wat sy uitgetoets het: pynpilletjies vir enige pyn, kalsium om te verhoed dat haar beendere verkalk, ‘n gemmermengsel vir haar voortdurende maagongesteldheid, vrugtesout vir die sooibrand, suiglekkertjies vir die seer keel en allerhande soorte kruiemengsels wat bekendes haar aangeraai het  om goeie gesondheid te verseker. Die kruieblare, -stokkies en -sade het sy in ‘n kastrolletjie op die stoof gekook en getrek soos ‘n tee, sodat die hele kombuis later geruik het na ‘n apteek.

Sy het geweier om haar kamer se deur of vensters oop te laat, omdat haar keel en haar ore sou ontsteek as daar net ‘n luggie trek. Sy het pal haar ore toegestop met watte om te keer dat die oordruppels uitloop en die wind inkom. By die geringste teken van ‘n verkoue het sy by voorbaat begin lekkertjies suig en haar keel gegorrel met ‘n antiseptiese ontsmettingsmiddel. Boonop het sy ‘n mengsel van salwe en room aangesmeer vir die gewrigspyn, droë vel, muskietbyte en enigiets anders wat sy kon waarneem. Die verskillende soorte medikasie het, soos voorspel kon word, haar reeds ‘sensitiewe’ maag aangetas, met die gevolg dat sy gedurig aan diaree gely het. Boonop het Emily begin kla dat Ou Mevrou nie gereeld wil bad nie, iets wat blykbaar algemeen is onder bejaardes wat ‘n baie hoë ouderdom bereik.

As gevolg van die reuke wat daaraan gekleef het, is haar wasgoed apart van die res van die gesin se klere gewas. Sy het dit gou genoeg opgelet en daarop aangedring om haar eie onderklere in die kamer in ‘n skottel te was. Haar sig was reeds nie meer goed nie en die klere is half vuil opgehang aan haar bed se style.

Die skerp reuke van die salwe, olies en spoelmiddels het veroorsaak dat my man begin mor het oor die walms van wat hy die ‘Egiptiese Grafsalf’ gedoop het en wat sy sinusse aangetas het. Die hele huis het geruik na medikasie, ontsmettingsmiddels en muwwe wasgoed. Enige poging van ons kant af om die inname en gebruik van hierdie medisinale remedies te beperk, is begroet met ‘n vloermoer van so ‘n aard dat ons baie vinnig opgegee het.

Na my ma se intrek in die ouetehuis op negentigjarige leeftyd, het dit ons ‘n hele rukkie geneem om ontslae te raak van die reuke in die huis. Ons het almal ‘n sug van verligting gegee toe die huis uiteindelik weer skoon en vars geruik het. Die verligting was egter van korte duur.

My man het weer begin sukkel met ‘n pynlike ou rugbesering wat ook vreeslike krampe in sy bene veroorsaak het. Die enigste verligting vir die krampe was om dit in te smeer met (onwelriekende) salf wat die dokter voorgeskryf het. Beide ek en my man het maagprobleme ondervind, hy as gevolg van medikasie wat vir hom voorgeskryf is vir rug- en spierpyn en ek as gevolg van ‘n ou maagseer wat so deur die jare weer opgevlam het.

Toe my dogter ook ‘n rukkie terug begin kla het van mangelontsteking en seer ore, wat ons gedokter het met oordruppels en watteballetjies, het ons almal maar net verleë gegrinnik oor die terugkeer van die ‘Egiptiese Grafsalf’ en die botteltjies pille en medisyne wat so stil-stil weer hulle intrek in ons huis geneem het.

Ja, die wiel draai.

Advertisements