Sleutelwoorde

, ,

My ma is ‘n packrat, ‘n hoarder, ‘n hamsteraar. Sy versamel nie ‘n spesifieke soort item van waarde, sentimenteel, esteties of andersins nie, sy ‘bêre’ alles wat sy in die hande kan kry soos wat ‘n hamster kos in sy kieste prop.

Leë garetolletjies word gebêre, ou tandeborsels, teekoppies sonder ore, leë bottels wat voorheen sjampoe of lyfroom of poeier bevat het, leë pilhouers, ou kouse wat jare terug al geleer het, klere wat sy nooit weer gaan dra nie, stukkies tou om ‘n kartonnetjie gedraai, gebruikte geskenkpapier, kiekies van mense wat sy nooit geken het nie, boeke wat sy nooit gaan lees nie, gebruikte servette, penne waarvan die ink toentertyd al opgedroog het, gebreekte potlode … as dit rondlê, bêre sy dit. Dis haar kleinnode en niemand mag daaraan raak nie.

Dis nie asof sy dit bêre as ‘n herinnering aan ‘n besondere gebeurtenis of persoon nie. Dis net, sy is altyd bang dat sy dit dalk weer gaan nodig kry.

Sy bêre dit behoorlik, nie net sommer los in ‘n laai gegooi of op ‘n rak nie, nee, elke item word toegedraai in papier of ‘n tafelservet, in ‘n plastieksakkie gesit en dan in ‘n boksie gedruk, voordat dit netjies in ‘n laai gepak word. Vir hierdie doel versamel sy sakkies en boksies ook; plastieksakkies waarin haar nuwe kouse verpak was, sellofaanpapier wat om tandepaste-boksies en sigaretboksies gedraai was en natuurlik die boksies self. Alles eindig op in ‘n boksie.

Die boksies, met hulle inhoud, word toegedraai in waslappies, handdoeke, kussingslope en ou sokkies voordat hulle onder ‘n hoop ou tydskrifte versteek word onder in die kas.

Hierdie is nie ‘n nuwe ding nie. By ons aan huis het sy altyd die leë roomyshouers, plastiekbakkies waarin groente of vrugte verpak was, skoendose en ‘n verskeidenheid van emmertjies, plastieksakke en wat nog alles, kamer toe gedra. Haar slaapkamer, van redelike grootte, was toegepak met al haar gebruiksartikels wat sy as broodnodig beskou het.

Voeg daarby dat sy ook nie ontslae sou raak van ‘n gebreekte artikel nie. Sy het elke maand op haar winkellysie aangedui dat sy gom, sellotape, tou, rekkies, papier, haakspelde, wol, lapgoed en nog wat benodig het. Dit alles het sy glo gebruik vir haar scrapbooks en flower presses, brei-en naaldwerk, alles tydverdrywe wat ek aangemoedig het om haar besig te hou.

Dan was daar die eetgoed wat sy in haar kaste gebêre het; koekies, beskuitjies, graankosse, vrugte, botteltjies koeldrank en lekkergoed. Sy wou niks in my kombuiskaste of yskas bêre nie. Ek het daarop aangedring dat al hierdie eetgoed in lugdigte houers verpak word en dat sy haar vars vrugte in die bak op haar laaikas hou, sodat ek kon toesien dat hulle vars bly. Min het ek geweet dat sy die appels afskil en dan die skille ‘bêre’ om dit te laat droog word … ?

Toe het sy begin om water in ‘n bottel kamer toe te vat, ingeval sy dors word deur die nag. Toevallig het my man eendag opgemerk dat daar omtrent ses bottels vol water in die venstersbank staan, in vol son. Die water was groen en slymerig. My ma het hierdie water in die nag gebruik om haar hordes pille te drink en Hollandse medisyne aan te maak!

Emily, ons huishulp, is nie toegelaat om my ma se kamer skoon te maak nie. Sy het gerapporteer dat Mevrou die hele dag lank besig was om goed in haar kaste reg te pak en te verskuif, en dat sy nie toegelaat word aan enigiets te raak nie. My ma het daarop aangedring om self haar bed op te maak met haar eie beddegoed.

Met haar trek na die ouetehuis toe, het sy daarop aangedring om self haar goed te pak en ek het haar gelos, want ek het geweet dat enige inmenging ‘n volskaalse oorlog sou veroorsaak. In die ouetehuis is ‘n beperkte aantal enkelkamers, maar gewoonlik deel die inwoners groot, ruim slaapkamers. Daar is ‘n ingeboude klerekas en ek het vir my ma ‘n nuwe laaikas laat maak om langs haar bed te plaas.

My ma het deur die jare baie klere vir haarself gemaak en nooit ontslae geraak van enige kledingstuk nie. Ek het vir haar vooraf verduidelik dat daar vir haar ‘n hangkas en ‘n laaikas beskikbaar sou wees, maar dat sy haar klere wat sy nie gedurende die komende seisoen sou gebruik nie, in haar slaapkamer by my huis moes agterlaat. Aangesien ons baie naby die ouetehuis woon en sy in elk geval elke naweek sou kom kuier, kon sy haar klere ruil soos wat dit haar gepas het.

Met ons aankoms by die ouetehuis het ek egter besef dat sy alles wat sy besit ingepak het, tot die laaste paar afgeloopte pantoffels wat sy al vir baie jare nie meer gedra het nie. Onder die voorwendsel dat ek vir haar die fasiliteite en die tuin wou wys, het ek haar uit die kamer geneem en buite gehou totdat my dogter en een van die saalsusters alles uitsorteer het. Die oortollige en onnodige artikels het hulle teruggesmokkel na die motor toe en die res mooi netjies in haar laaie gepak. Die ouetehuis is net agter ‘n groot kettingwinkel en my dogter het heen en weer gehardloop om ordentlike houers te koop vir die kleinighede, wat alles netjies ingepak is. Agterna het my dogter my vertel van die ‘onwettige’ medikasies waarvan hulle ontslae geraak het, pakkies ontbytgraan wat reeds oopgemaak was en, tot my verbystering, twee pakke bitter oue aartappelskyfies, iets waaraan my ma nooit haar mond gesit het nie. Die ouetehuis personeel was nie halfpad so uIt die veld geslaan soos ons nie. Blykbaar is hierdie soort gedrag algemeen onder bejaardes.

Sou dit dan ‘n manier wees om nog ‘n mate van kontrole uit te oefen oor haar lewe? Ek dink so. Sy was jare lank gewoond aan ‘n groot huis en huishouding van haar eie. Nou het haar huishouding bestaan uit ‘n gedeelde slaapkamer en twee kaste waarin sy haar besittinkies kon bêre. Wat ‘n aanpassing moet dit nie vir enige persoon wees as sy of haar wêreldjie so krimp nie?

Advertisements