Sleutelwoorde

, ,

Ek het nie my ma ‘weggegooi’ nie; sy woon in ‘n ouetehuis vir haar eie veiligheid. Nou hoekom kry ek dit reg om nog steeds skuldig te voel hieroor?

My ma se gewoonte om medikasie te neem vir enige skeet of kwaal, saam met haar ongebalanseerde eetwyse, het haar gesondheid begin knou. Sy het ‘n obsessie ontwikkel met pille, strope en smeersalwe, tot so ‘n mate dat sy later ‘n plastiek gereedskapskissie met verskillende soorte pille in haar kamer aangehou het. Sy het elke liewe pil uit die verpakking gehaal en in die verskillende vakkies geplaas, saam met die voubiljette wat voorsien word. Dan het sy ure lank die pille gesorteer, ‘n knipper gebruik om hulle te halveer en herhaaldelik ’reggepak’.

Dit was nogal ‘n mooi kleurvolle spul, maar tot niemand se groot verbasing nie, het die pille se voubiljette en daarmee saam hulle doel en die dosis-aanwysings deurmekaar geraak. Sy het botweg geweier dat die pille weggeneem word uit haar kamer, maar het op my aandrang ingestem om neer te skryf presies wat sy gedrink het, watter hoeveelheid en vir watter kwaal. Ek moes vir hierdie doel ‘n klein A-grootte witbord aankoop (wat sy terstond begin gebruik het as ‘n fotoraam).

Elke poging wat ek aangewend het om met haar hieroor te praat, het op ‘n volskaalse oorlog uitgeloop. My ma het haar lewe lank in die verskriklikste woedebuie verval as sy nie haar sin kon kry nie of, volgens haar, te na gekom is. Sy het ook nie geskroom om lyfstraf toe te dien wanneer een van haar kinders ‘snipperig’ of ‘stout’ was nie. Ek het meermale deurgeloop onder die verestoffer se houtsteel. Sy was ‘n sterk vrou en sy het met mening geslaan, sonder om in ag te neem waar die houe geval het, sodat ek menige kere met opgeswelde rooi riwwe op my bene en arms rondgeloop het. In die laat vyftiger- en vroeë sestiger-jare, in die gemeenskap waarin ons opgegroei het, is ‘n pak slae beskou as ‘n noodsaaklike plig wat deur ouers vervul moes word om hulle kinders goed op te voed. Niemand het ‘n wenkbrou gelig oor ‘n paar rooi hale nie.

Teen die tyd toe ek sowat sestien of sewentien jaar oud was, het die fisiese tugtiging merendeels tot ‘n einde gekom, hoewel ek ook maar ver weg gebly het van die nat vadoek in haar hand. Dit was die begin van die emosionele tugtiging, die lang stiltes waartydens sy my totaal geïgnoreer het vir ‘n paar dae of langer, of tenminste totdat ek ‘tot inkeer gekom het’ oor my gewaande verkeerde optrede.

Aan die anderkant kon sy ook baie liefdevol wees wanneer ek presies opgetree volgens haar voorskrifte. Toe ek jonger was, sou sy byvoorbeeld vir my pragtige popklere maak, liedjies sing, bybelstories vertel en die radio aanskakel vir die Siembamba uitsending elfuur op weeksoggende. Sy was ‘n goeie moeder, maar nie maklik om lief te hê nie.

Hierdie streng dissipline wat in my ingedril is in my kinderjare het in my ma se guns gewerk het tot lank nadat ek reeds ‘n ma van my eie kinders was; sy kon my steeds laat voel asof ek ‘n stout kind is wat ‘n paar klappe nodig het. Sy het my, inderwaarheid, terwyl sy by ons ingewoon het, so elke nou en dan ‘n oorveeg belowe vir my ‘snipperigheid’. By geleentheid het sy my weggejaag uit haar slaapkamer en eenkeer het sy selfs probeer om my my eie huis te verbied! Hoewel ek toe reeds in my vyftigerjare was, was my eerste instink altyd om in haar goeie boeke te bly.

My man het nie sulke bedenkinge gehad nie en sy intrede het meermale my ma in trane gehad. Dit het baie gou duidelik geword ons huislike lewe besig was om op ‘n krisis af te stuur. Ek en beide my kinders het in die stad gewerk en elke dag meer as ‘n honderd kilometer heen en weer gery in Johannesburg se swaar verkeersvloei. Dit was senutergend om in die aand by die huis te kom net om ‘n woedende man, ‘n ongelukkige huiswerker en ‘n huilende moeder teë te kom. Ek het nie eens kans gehad om my handsak neer te sit en dalk ‘n draai by die toilet te maak voordat ek reeds vasgeval was in ‘n hewige stortvloed van verwyte, beskuldigings en argumente nie. Andersins het sy haar kamerdeur gesluit en vir twee of drie dae geweier om met enigiemand te praat of haar kos te eet.

Hierdie episodes is, sonder uitsondering, altyd afgesluit met die aankondiging dat my ma nie goed voel nie of ‘n nuwe skeet ontwikkel het as gevolg van die feit dat sy ‘verwaarloos’ word wanneer ek gewerk het. Dit het ‘n paar keer gebeur dat ek haar in die aand na werk moes neem om ‘n dokter te sien, net om ‘n bietjie kalmte in die ontstuimige huishouding te verkry.

Niks van bogenoemde dien as ‘n verskoning vir die feit dat my ma besig was met oordosering van medikasie en ek toegelaat het dat so ‘n situasie ontwikkel nie; ek moes toe reeds besef het dat ek nie die verantwoordelikheid vir haar eie welsyn aan my ma kon oorlaat nie. Toe ek een Vrydag aand by die huis ingestap het na ‘n lang dag by die werk en vir die soveelste keer moes hoor dat my ma ‘nie goed voel’ nie, het ek bloot verbygeloop na my slaapkamer toe en in die bed gaan klim, sonder om uit te vra. Die volgende oggend het ek haar teëgekom in die gang en opgelet dat daar onder haar een oog ‘n bloederige sak was. Ek het haar onmiddellik na die privaatkliniek toe geneem waar die dokter bepaal het dat haar bloeddruk geweldig hoog is en omdat hy gevrees het vir beroerte, moes ek haar in die kliniek laat opneem.

Dit was ‘n traumatiese gebeurtenis in my lewe waaroor ek nou nog skuldig voel. Tog kon ek nie help om te lag nie toe my dogter ewe ernstig die Maandagoggend vir ons huiswerker verduidelik het ‘Ouma het ge-OD’ oor die naweek en is in die hospitaal.

Dit was die laaste strooi vir my. Die dokter, by wie ek ook reeds geruime tyd onder behandeling was vir hoë bloeddruk, het my huislike omstandighede geken en sonder om te skroon, reëlings getref dat my ma in die ouetehuis opgeneem word waar sy onder 24-uur ‘n dag toesig sou wees.

Advertisements