Sleutelwoorde

, ,

Die saalsuster in die ouetehuis laat weet vroegoggend reeds Ouma het haar knie seergemaak en wil weet of sy die dokter moet bel vir ‘n ondersoek.

Die bejaardes in die hoësorg-eenheid word almal deur die bank aangespreek as ‘Ouma’ of ‘Oupa’. Dit het my ma nog nooit aangestaan nie. Ek kan heeltemal verstaan dat sy daarteen kapsie maak; ek sou ook, want ek dink hierdie generiese aanspreekvorm doen afbreuk aan die bejaardes se gevoel van identiteit en selfwaarde. Ek maak eers doodseker dat ons van die regte Ouma praat (sommer net om dwars te wees) en sê dat ek verkies om eers self te gaan kyk wat aangaan.

Die oomblik toe ek my kop by die kamerdeur insteek, begin my ma ‘n relaas oor haar drommetjie wat gesteel is. Watter drommetjie tog nou? Maar die een wat altyd langs haar bed staan, die plastiek een met die blou blommetjies op, verduidelik sy met bewende ken en blou-blou oë vol trane. O ja, onthou ek, dit moet die een wees wat veronderstel is om te dien as ‘n vuilgoeddrommetjie, maar waarin sy alles en nog wat wegsteek sodat dit nie gesteel kan word nie.

Die suster kom in om die knie te bespreek. Dit is taamlik geswel en lyk nogal pynlik, maar nie so erg dat dit ‘n noodgeval genoem kan word nie. Ons besluit om nie die dokter te laat inkom nie, want ‘n seer knie het gewoonlik net ‘n bietjie rus nodig om self te herstel. Ek is egter bekommerd dat sy haar balans kan verloor met die seer knie en dalk ‘n heup breek, of erger beserings opdoen. Die suster bring ‘n loopraam en ons probeer my ma oorreed om daarmee te loop, maar sy stel nie juis belang nie en bly neul oor die drommetjie.

Die suster sê die drommetjie is gewas en sal later teruggebring word. Sy probeer nog steeds om Ouma te oorreed om ten minste net tot by die toilet te loop met die loopraam. Net daar tel ek twee en twee bymekaar en maak die korrekte afleiding – Ouma het haar drommetjie gebruik as ‘n kamerpot en in dié proses het sy geval en haar knie seergemaak. Dit is dan die rede hoekom die drommetjie weggeneem is.

Die ouetehuis verskaf snags doeke vir volwassenes wat nie beheer oor ‘n vol blaas kan uitoefen nie, maar my ma het nog nooit so ‘n probleem gehad nie. Sy weier ook om toe te laat dat hulle haar help met ‘n bedpan, dus moet sy gebruik maak van die gemeenskaplike badkamer. Dit was nog nooit ‘n probleem nie, omdat sy nog steeds gemaklik kan loop, sonder hulp.

Die hele kamerpot-idee was nog altyd vir my ‘n steen des aanstoots. Ek onthou dat daar in my kinderdae altyd ‘n pot onder die ouerpaar se dubbelbed gestaan het, wit emalje met blou blomme en ‘n groot handvatsel. Die pot is getrou elke oggend leeggemaak en skoongewas deur ons getroue ou Dora wat nooit ‘n geleentheid laat verbygaan het om te mor oor die ‘stink pispot’ wat deel van haar pligte gevorm het nie.

In die tydperk wat my ma by my gewoon het voordat ons haar in die ouetehuis geplaas het, het sy nog steeds snags gebruik gemaak van die pot, wat sy nou self skoongemaak het. Vroeg in die oggend voordat die res van die gesin nog wakker was, is die pot al stortende van haar kamer af die twee tree deur die gang tot by die badkamer geneem. Dit het daartoe gelei dat, eerstens, die hele huisgesin versigtig moes trap in die gang en badkamer en, tweedens, dat die vloere en toilet op ‘n daaglikse basis gewas en ontsmet moes word. Ek het hard probeer om my ma te oorreed om eerder die toilet te gebruik, maar sy het volstrek geweier op grond daarvan dat sy nie die lig wil aansit in die nag en ons hinder nie. Dit was nonsies, want in ons huis slaap almal met toe kamerdeure

Ek moes gereeld mooipraat met Emily oor die ekstra werk. Ek het beduie dat my ma grootgeword het in ‘n era waar die buitehuisie nog in gebruik was en die ou mense kamerpotte gebruik het omdat hulle nie kans gesien het om snags met ‘n flikkerende kersie buitetoe te gaan om die nood te verlig nie. Hieroor het ek dalk gelieg, want ek het nooit my ma uitgevra of stories gehoor oor die tipe toilets waarmee hulle grootgeword het nie. Emily het my gelukkig geglo.

‘n Welmenende vriendin het op ‘n stadium vir ons ‘n tweedehandse commode gebring, wat meer gerieflik is vir gebruik deur bejaardes, maar het nagelaat om ons te vertel dat die plastiekhouer gebars was. Dit het ons eers ‘n paar weke later agtergekom. Die slaapkamermat het soveel kolle opgehad en so sleg geruik, selfs al is dit gereeld gewas, dat ons dit moes laat vervang nadat my ma ouetehuis toe is. Die man wat die matte kom vervang het met houtvloere, het ons baie diplomaties ingelig dat die sementvloer mooi skoon gewas moes word voordat die hout gelê kon word.

Daardie aand, terug van my besoek aan die ouetehuis, gaan ek vir oulaas toilet toe voor slaaptyd en al sittende kom dit by my op dat ek ook ‘n ‘kamerpot’ het in die vorm van ‘n en suite badkamer. As ek nou in ‘n ouetehuis beland, sal ek dalk ook skop teen die idee daarvan om in die nag deur ‘n helderverligte gang na die toilet  te skuifel?

Net daar roep ek my dogter en beduie vir haar dat sy asseblief vir my ‘n plastiekdrommetjie met groot gate in moet saamgee as ek die dag ouetehuis toe gaan, net sodat ek die versoeking kan weerstaan om daarin te piepie. Sy gaap my verbaas aan, maar ek gee geen verduideliking nie, klim net in my bed en trek my duvet oor my kop.

Advertisements