Sleutelwoorde

, ,

Een groot vrees wat my bloots gery het in die tydperk toe my ma by my ingewoon het, was dat sy in die badkamer sou gly en val.

Mettertyd het ek agtergekom dat sy begin het om haar persoonlike higiëne af te skeep. Dit het my verbaas, aangesien sy voorheen altyd ‘n punt daarvan gemaak het om daagliks te was of te stort; haar lang hare is gereeld gewas, elke dag uitgeborsel, gevleg en in ‘n bolla op haar kop vasgemaak. Ek het nou haar nalate toegeskryf aan die feit dat sy ook haar bedenkinge oor die gladde vloerteëls en glaspanele van die stort gehad het.

Sy wou egter nie toelaat dat ek haar bystaan in die badproses nie. My ma het grootgeword in ‘n era waar mense kuis en privaat geleef het en sy het ‘n baie hoë ouderdom bereik voordat sy my, haar enigste dogter, toegelaat het om haar sonder klere te sien; dit ook net omdat sy te siek was om haarself te versorg. As kind was toegang tot my ouers se slaapkamer vir my streng beperk tot die tye wat albei van hulle ten volle geklee was.

Een dag het ek, ongeveer tien jaar oud op daardie tydstip, ‘n snotklap opgedoen toe ek heel per ongeluk my ma in haar onderklere gesien het. Ek het die Sondagoggend voor kerktyd in haar kamer gestaan en wag het dat sy klaar moes aantrek, sodat sy my lang hare kon borsel en vleg. Sy was besig om haar sykouse aan te trek en ek het my rug op haar gedraai om met die botteltjies room en parfuum op haar spieëlkas te speel. Dit was blykbaar aanvaarbaar totdat beide van ons opgekyk en ons oë in die spieël ontmoet het. Ek het ‘n vinnige backhander gekry omdat ek haar ‘afgeloer’ het en my protes tot die teendeel het my niks in die sak gebring nie.

Die ouetehuis se stortkamers is spesifiek ingerig sodat die bejaardes gerieflik in spesiaal ontwerpte stoele of rystoele kan sit. Ter wille van hulle eie veiligheid word hulle bygestaan deur personeel wat hulle afspons en dan afspoel met ‘n handstort. Die personeel hou noukeurig boek van die badbeurte en teken aan op ‘n kaart wanneer die bejaarde gebad en hulle hare gewas is.

My ma het van die begin af sonder ophou gekla oor hierdie badproses, enige verskoning opgehaal waaraan sy kan dink – van ‘n seer keel tot ‘n hoofpyn – om nie te bad nie en later net botweg geweier om dit toe te laat. Haar kaart het aangetoon dat sy soms dae lank die badbeurt omseil het.

Ek was redelik omgekrap hieroor, maar die personeel het verduidelik dit ‘n baie algemene verskynsel is dat bejaardes nie meer wil bad nie. Hulle het my aangemoedig om my ma te pols oor haar klagtes of omstandighede wat haar ongemaklik laat voel.

Die ironie daarvan dat ek, wat as kind gehaat het om te bad, nou die omgekeerde rol moes vervul, het my nie ontgaan nie. Ek kan ‘n paar skrobberings onthou wat ek in my kinderdae opgedoen het, omdat ek met vuil voete of ongeborselde tande in die bed geklim het. Ek het die kuns om ‘n ‘onnodige’ bad te vermy goed onder die knie gehad teen die tyd wat ek skool toe is. Daarvoor moet ek die joernalistiek bedank: ons het gewoonlik na aandete die dag se koerante gelees (my ouers het ons aangemoedig om op vroeë ouderdom reeds te begin lees) en ek het die kuns vervolmaak om tjoepstil agter die groot oopgevoude koerant aan die slaap te raak. Die grootmense was gewoonlik so verdiep in hulle eie koerante en tydskrifte dat my vuil voete skoon vergete geraak het. Ek kan nou nog so regop sit en slaap met ‘n boek of tydskrif.

My ma vervies haar eers vreeslik vir my toe ek versigtig uitvra na die badklagtes, maar vertel dan tog dat van die inwoners verwag word om uit te trek en in hulle kamerjaponne te wag vir hulle stortbeurt. Storttyd is gewoonlik vroeg in die oggend, selfs in die winter, en sy kry koud as sy nie genoeg klere aanhet nie. Boonop moet sy nakend op die stortstoel sit solank die personeel die hittegraad van die water toets en hulle gesels soms onder mekaar, vat te lank om die proses af te handel. Dan word sy weer, net geklee in haar japon, kamer toe geneem waar sy haarself moet aantrek. Om so ‘kaalgat’ in die gange rondgejaag te word, beduie sy driftig, is net te veel vir vlees en bloed.

Dat sy ‘n baie koulike persoon is, is gewis, maar die gebou waar sy gehuisves word, word verhit. Die slaapkamers, gange en badkamers voel altyd soos ‘n hothouse en skynbaar verkies die bejaardes dit so, hoewel ek soms in die somer ongemaklik warm kry as ek my ma gaan besoek. Ek het dus nie geglo dat haar teenkanting enigsins met koue verband kon hou nie.

By nadenke het ek besef dat die probleem dalk kon wees dat sy nie daarvan hou as vreemdelinge haar nakend sien en haar bad nie. Ek het nie voorheen hieraan gedink nie, want die veranderende modes en waardes het ons geslag grootliks laat afsien van ‘n oordrewe beheptheid met kuisheid. Vir my ma moes die aanpassing egter baie moeilik gewees het.

Gelukkig het hierdie situasie nou heelwat verbeter en sy word gereeld gebad. Nou verstaan ek egter ook wat bedoel word met die ‘generasie-gaping’ – ons het nie begrip vir mekaar se probleme en morele waardes nie.

Advertisements