Sleutelwoorde

, , , ,

frame1Desember was elke jaar ‘n besige sosiale maand in my ouerhuis.

Eerste aan die beurt was my pa se verjaardagherdenking. Hy is gebore op die 11de Desember 1901. My ma was baie gesteld daarop dat my pa se verjaardag behoorlik gevier word, gewoonlik met ‘n vleisbraai, bygewoon deur ‘n mengelmoes van mede-gemeentelede, vriende en kollegas.

Desember was natuurlik ook die tyd vir menigte kersfunksies: die jaarlikse partytjie vir werknemers en gesinne van die mynmaatskappy vir wie my pa gewerk het, kersfunksies by die kerk vir ledemate en Sondagskool-kinders, konserte en onthale in die mynmaatskappy se klubhuis vir kinders van werknemers, “sokkies” (danse vir die jonger geslag wat vir my verbode was, maar natuurlik het ek elkeen bygewoon), Ou Kersaand se jeugdienste en kersliedere by kerslig, Kersoggend se spesiale oggenddiens. Dit was ‘n besige, vreugedevolle tydperk.

Die kersie op die koek was egter Kersdag self, die middagete na die kerkdiens en die saamkuier met jarelange ou huisvriende. Ons was drie huisgesinne wat elke Kersdag saam deurgebring het, om die beurt aan huis by een van die gesinne. Die lekkerste vir my was dat daar altesame vier kinders van my eie ouderdom was en ons het net so goed klaargekom as die drie ouerpare wat bevriend was jare voor ons geboorte reeds. Die aanloop tot Kersdag, die uitsoek van die geskenkies en voorbereiding van die eetgoed het gesorg vir groot opwinding. Elke gesin het by die feesmaal opgedaag met armsvol geskenkpakkies, toegedraai in ‘n bonte mengelmoes van papier, en borde vol kos. Daar was nooit luukse geskenke nie, maar elkeen het ‘n klein presentjie ontvang en ons kinders was baie gelukkig met ons nuwe haarlinte vir ons lang vlegsels, ‘n stel kleurpotlode of ‘n splinternuwe vulpen vir die skool.

Na al die opwinding van Kersfees en “boxing day” het ons stil en stemmig ons ouers se huweliksherdenking gevier op die 27ste Desember en teen Nuwe Jaar was ons behoorlik uitgekuier met al die feesdae.

My ma was altyd die groot gees agter die feesvieringe, die een wat al die reëlings getref het en ook die een wat dit skynbaar die meeste geniet het. Veral voor Kersfees het daar ‘n atmosfeer van opgewondenheid en afwagting in die huis geheers. Dit was die een tyd van die jaar wat almal in ‘n goeie bui was; die klein sondetjies, kwade gevoelens en humeurigheid wat ons gewone dag-tot-dag lewenstyl gekenmerk het, het onbelangrik geword.

In my eie huishouding het ons gewoonlik nie ‘n ophef gemaak van die feesdae nie en het verkies om dit stil deur te bring. Met my ma se koms het ons egter altyd ‘n punt daarvan gemaak om met haar verjaardag familie en vriende oor te nooi, en Kersfees het ons bymekaargekom vir die Kersete en die tradisionele uitdeel van geskenkies. In die begin het sy dit baie geniet om saam met die familie te eet, elke geskenkie oop te maak, dit te bewonder en dan weer sorgvuldig weg te pak wanneer sy by die ouetehuis gekom het. Sy het egter nie werklik belangstelling daarin getoon om die artikels te gebruik nie – dit was belangriker om dit weg te pak, elkeen in sy eie boksie en toegedraai in die veelkleurige papier.

Gaandeweg het sy meer begin belangstel in die papier waarin die geskenke toegedraai is as die geskenke self en het geweier dat ons enige omhulsel weggooi; selfs die papier waarin die res van die gesin se geskenke toegedraai is, het sy in ‘n plastieksak geprop om saam te neem na die ouetehuis toe. Weke daarna sou ons nog steeds die sorgvuldig platgestrykte papier, die kartonbuisies van die Kersfeesklappers, die koeverte waarin haar kaartjies was, die leë lekkergoedpapiertjies en boksies stuk vir stuk uit haar kaste verwyder om later weg te gooi.

Ons het begin agterkom dat sy onseker is oor haar ouderdom en haar verjaardagdatum en dit is nou duidelik dat sy nie regtig meer ‘n begrip van die doel van die verjaardag- of Kersvieringe het nie; om die waarheid te sê, al die doenighede maak haar verward en onseker. By enige sosiale geleentheid vra sy aanhoudend vrae oor die verrigtinge en kan nie verstaan hoekom al die mense bymekaar is nie.

Mettertyd het ons dit makliker gevind om Kersfees as ‘n gesin deur te bring en dan later in die middag eetgoedjies en geskenke na die ouetehuis toe te neem wanneer ons haar besoek het. Selfs dan is sy gewoonlik in trane wanneer ons probeer om die papier by haar weg te neem. Ons het nou geleer om dit eers te los en dan later uit te smokkel, want daar is eenvoudig nie plek vir al die papier, boksies en sakkies wat sy in haar kaste probeer bêre nie. As dit eers onder haar oog uit is, vergeet sy onmiddellik daarvan.

Die wete dat verjaardae en Kersfees vir my ma nie regtig enigiets meer beteken nie, en dat sy nie meer deel het aan hierdie vieringe nie, veroorsaak dat ek hartseer en skuldig voel vir my – vir haarself maak dit doodeenvoudig nie meer saak nie. Sy onthou nie haar eie of my pa se verjaardagdatums nie, en ook nie die datum van haar huweliksherdenking nie. Hierdie dinge het geen betekenis meer vir haar nie.

Kersfees bestaan nou net uit bont papier met mooi prentjies wat sy in haar laai kan bêre.

Advertisements