Sleutelwoorde

, ,

My ma is, na al die jare wat sy in die ouetehuis woon, nog steeds ontevrede met die feit dat sy nie kan kom en gaan soos sy wil nie. Sy haat ook die feit dat haar roetine beperk word, wat in haar geval beteken dat sy op sekere tye moet bad, op vasgestelde tye medikasie kry en in die eetkamer moet gaan eet.

Ter wille van hulle eie beskerming, kry bejaardes hulle voorgeskrewe medikasie op ‘n bepaalde tyd gedurende die dag en daar word streng rekord gehou van die toediening daarvan. In samewerking hiermee het ek, na haar opname, geweier om vir haar enige soort medisyne te gee wanneer sy by my aan huis gekuier het. Alle pynmiddels, maagmedisynes en ander medisyne voorgeskryf vir my familie, word toegesluit in ‘n kluis in my kamer sodat sy nie toegang het daartoe wanneer sy kom kuier nie. Sy het my erg kwalik geneem dat ek nooit wou toegee en vir haar selfs net ‘n hoofpynpil gee vir die ‘helse hoofpyne’ waarmee sy gesukkel het nie.

Ek het egter besef dat die hoofpyne, wat aan die begin dalk op onttrekkings-simptone kon gedui het, later net as verskoning gebruik is om aandag te kry. Wanneer ons haar aandag afgetrek het van die pyn waaroor sy gekla het, het sy gou genoeg daarvan vergeet. Sy word gereeld ondersoek deur die dokter wat die ouetehuis-besoeke waarneem, haar bloeddruk word pal gemonitor en opgeleide mediese personeel is dag en nag aan diens om na die bejaardes om te sien.

Die ouetehuis het ‘n streng sekuriteitstelsel en alle ingange bly gesluit, dag en nag. My ma is vir die eerste paar maande van haar verblyf daar in ‘n geslote eenheid geplaas saam met ‘n kamermaat van dieselfde ouderdom. Sy het egter aanhoudend gehuil oor die ‘lastige ou vrou’ in haar kamer, die mans wat in die dames se badkamers ingeloop het terwyl sy daar besig was en natuurlik, die feit dat sy nie toegelaat is om enige eetgoed of medikasie in haar kamer aan te hou nie.

Die personeel het gemeen dat sy aan depressie ly omdat sy so ingeperk word en sy is in ‘n afdeling geplaas waar die inwoners groter vryheid van beweging gehad het. Kort daarna het sy haar eie enkelkamer gekry in ‘n poging om haar meer privaatheid te gun. Dit het egter geblyk ‘n groot fout te wees, want nou het sy haarself begin afsonder in haar kamer en geweier om met die ander inwoners sosiaal te verkeer. Sy het geleef vir die tye wat ons haar besoek of uitgeneem het na ons huis toe.

Sy het in die eerste jaar in die ouetehuis nog haar eie selfoon tot haar beskikking gehad en ons kon enige tyd van die dag ‘n oproep verwag om te verneem dat my ma siek gevoel het, of iets nodig gehad het of bedruk gevoel het en geselskap wou hê. Hierdie oproepe is altyd vergesel met die beskuldiging dat ‘hulle’ haar goed steel en ons moes dit vervang. Ons was nog skaars terug by die huis na ‘n baie lang werksdag, voordat die oneindige selfoonoproepe begin het.

Die selfoon, wat ‘n welmenende familievriend as geskenk vir my ma gegee het, het ‘n euwel in my lewe geword en was in daardie tydperk die een voorwerp wat ek met alle mag wou vermorsel, weggooi, begrawe of in die toilet afspoel, want sy het my dag en nag gebel, om te gesels (lees: kerm en kla), ‘gesteelde’ goedere te probeer op te spoor of my te probeer oorreed om self-voorgeskrewe medikasie aan te koop. Na die eerste jaar, toe selfs my ander familie begin kla het dat sy hulle tot vyf keer ‘n dag bel, het ek die selfoon afgeneem.

Daarna het sy die ander inwoners oorreed om namens haar op hulle selfone of van die telefoonhokkie af te bel. Op daardie tydstip het ek my eie selfoon afgeskakel en in ‘n laai gegooi, tot my werkgewer se bittere ontsteltenis. Tot vandag toe nog, ses jaar later, haat ek ‘n selfoon met ‘n verwoede haat. Gelukkig het my ma nooit geleer om die telefoonhokkie in die ouetehuis te gebruik nie en my landlynnommer is in elk geval ongelys. Aan die begin het my ma, deur vloermoere van formaat te gooi, die verpleegsters oorreed om my by my werk of by die huis te bel, want sy weet dat hulle my kontaknommers het. Ek het dit ook later verbied en die personeel bel my nou net wanneer nodig of wanneer hulle regtig raadop is met my ma se woede-aanvalle.

My ma se selfopgelegde afsondering van die ander inwoners en haar weiering om sosiaal te verkeer, het haar meer en meer aangewese gemaak op haar eie geselskap. Die ander inwoners is oorwegend ledemate van die NG Kerk en my ma het nie tuis gevoel in hulle byeenkomste en gebedsaande nie. Sy het haarself nog steeds besig gehou deur briewe skryf, plakboeke te maak, naaldwerk te doen en tydskrifte of boeke te lees. Sy het daarop geroem dat sy self haar kamer netjies hou, haar eie bed opmaak en self haar kaste regpak. Dit was die begin van ‘n bepaalde gedragspersoon waar sy elke dag haar kaste sou uitpak en alles weer terugpak, net om die hele proses weer die volgende dag te herhaal, aangesien sy vas oortuig was dat ‘hulle’ haar goed steel.

Sy het begin kla dat die ander bejaardes in daardie afdeling haar koggel oor haar godsdiensoortuigings. Sy was ook oortuig dat die ander inwoners snags water op haar vloer uitgooi en haar andersins terorriseer om haar uit die kamer te kry. Ons het by meer as een geleentheid gesien dat daar poele water op haar vloer is in die oggend, maar dit was nooit duidelik hoe dit daar beland het nie.

Net daarna het my ma begin dreig om weg te loop uit die ouetehuis. Sy het dit wel ‘n keer of wat reggekry om by die voordeur uit te gaan, omdat besoekers nie altyd daarop bedag is om die deure behoorlik toe trek wanneer hulle in- of uitgaan nie. Gelukkig het die veiligheidswag haar raakgesien en die personeel in kennis gestel of sy is opgemerk op die sekuriteitskameras. Tog het die dag aangebreek wat sy wel ‘ontsnap’ en ‘n ver ent straat af gevorder het voordat die personeel haar kon voorkeer. Sy was woedend dat hulle haar ingeperk het in wat sy nou as ‘n tronk bestempel het.

Sy het meer en meer irrasioneel begin optree en haar besig gehou met aktiwiteite wat geen sin gemaak het nie. So het ek eenkeer vir haar ‘n groot boks tissues gekoop en onmiddellik het sy elke liewe tissue in kwarte gesny. Toe het sy die velletjies paper binne-in haar kouse of beskikbare plastieksakkies of boksies gedruk. Na my weiering om dit te vervang, het sy dieselfde gedoen met ‘n rol toiletpapier wat sy uit die badkamer geneem het en die papierservette wat in die eetsaal verskaf is.

Ek het elke maand self haar toiletbenodigdhede aangekoop, sjampoe, lyfroom, Vaseline, handeroom, deodorant (die aanroltipe aangesien sy die ander soort in een dag opgebruik het) en altyd was daar die versoek vir ‘n botteltjie Vicks. Eendag met besoek aan die ouetehuis, wys die saalsuster my dat my ma ‘n groot bottel in die hande gekry het waar sy al haar sjampoe, room, Vicks en wat alles nog saamgemeng het, sodat sy nie kon ‘deurmekaar’ raak met die verkillende soorte bottels nie. Dit sou dan, volgens haar, ook tyd bespaar om alles bymekaar te kry vir storttyd vroeg in die oggend.

Die een ding wat my egter verstom het, is dat sy besluit het om haar klerekas se donker hout af te skuur (met ‘n halwe liniaal en ‘n naelvyl) om die ‘lelike kolle’ daarop ‘reg te maak’. Die plekke wat sy afgeskuur het, het sy ingesmeer met Vicks om dit weer te laat blink. Die reuk van Vicks en het die hele kamer vol gehang en my weer laat dink aan die spreekwoorlike ‘Egiptiese Grafsalf’. Die hele ouetehuis, vloere, mure en kaste inkluis, is net ‘n maand vantevore oorgeverf en vernuwe, dus kon ons glad nie verstaan wat haar die idee gegee het dat daar iets verkeerd was met die kasdeure nie.

Dit was duidelik dat hierdie toedrag van sake nie kon aanhou nie. Na samesprekings met die ouetehuis se bestuur en personeel het ons besluit om haar te verwys vir ‘n voorskrif van medikasie om haar kalm te hou. ‘n Verdere besluit is geneem dat sy weer haar intrek moes neem in die geslote afdeling, waar sy ‘n kamer moes deel met ‘n ander inwoner. Haar toiletbenodigdhede word nou deur die ouetehuis verskaf, wanneer nodig, teen ‘n ekstra fooi.

Dit het ‘n rukkie geneem voordat haar gestel aangepas het by die medikasie en sy het begin kalmer voorkom. Daar is egter nog episodes waartydens sy in uiterste woedebuie verval en ‘n vloermoer kan gooi wat enige ander bejaarde van haar ouderdom in die skadu kan stel. Die werkers wat die kamers skoonmaak onder toesig van die saalsusters en matrone, het al by meer as een geleentheid gekla dat sy hulle te lyf gaan. Teenoor my kla sy altyd oor haar ‘tronkbewaarders’.

Dit is absoluut verbasend dat sy, op hierdie ouderdom waar sy so vergeetagtig geraak het, so kan kapsie maak teenoor haar omstandighede en so ‘n dwingende begeerte het om nog onafhanklik te funksioneer.

Advertisements