Sleutelwoorde

, , ,

In my kinderjare was dit mode vir dogtertjies om lang hare te hê, kort hare was die uitsondering. Oral in die strate, kerk en skool het klein dogtertjies met sulke netjiese stywe vlegseltjies en windmaker haarlinte rondgewip.

Streng skoolreëls het ons verbied om die hare los te dra en ponytails is net toegelaat as die hare nie te lank was nie. En ek het LANG hare gehad; my hare is nooit gesny vandat ek vier jaar oud was tot na my vyftiende verjaardag nie. Boonop het ek so ‘n digte bos hare gehad dat ek twee vlegsels moes dra. My ma het daarop aangedring om die vlegsels oorkruis vas te maak sodat dit soos ‘n hangbrug in my nek gehang het, met die strikke wat bo die kop uitsteek soos haasore.

Toe ek hoërskool toe is, het ek begin om twee vlegsels te dra wat agter my rug gehang het en gelukkig het iemand uitgevind dat jy hare kon vasmaak met rekkies; die haarlinte was iets van die verlede. In 1966 was ek in standerd sewe (nou graad nege) en dit was die jaar waarin Twiggy, ‘n Engelse model, haar verskyning in die modewêreld gemaak het. Twiggy het sulke dun beentjies gehad en kort rokkies gedra, maar van nog groter belang, sy het haar hare in so ‘n hupse kort styl gedra. Die oomblik toe ek dit gesien het, het ek geweet dat ek my hare so gesny wou hê, net so kort en met net so ‘n windmaker skuins fringe. Alle meisies van my ouderdom het hierdie nuwe modes slaafs nagevolg; net ek is nie toegelaat om my hare te sny nie.

Kinders kan wreed wees en ek is aanhoudend geterg oor my outydse vlegsels. Selfs my onderwysers het begin om aanmerkings te maak oor my vlegsels. Eienaardig genoeg was dit my pa wat vasgeskop en summier geweier het dat ek my hare mag sny; hierdie een keer het my ma my ondersteun. Ons het in Tsumeb by een van my susters gekuier en toe sy aangebied het om vir my ‘n afspraak by ‘n haarkapster te maak, het my ma ingestem. Die haarkapster het die skêr goed ingelê en ek het daar uitgestap met bykans geen hare oor op my kop nie. Maar sexy, hoor? Terug by die huis het my pa my net een kyk gegee en vir drie weke nie ‘n woord met my gepraat nie.

My ma het self ‘n dik bos hare gehad wat sy gereeld laat ‘kap’ het in ‘n elegante kort styl. Haar natuurlike krulle en roesbruin kleur hare was haar trots. Ek het natuurlike blonde hare gehad waarop ek self nie min trots was nie. Ek onthou hoe ek my altyd vervies het vir die gehate kerkhoede wat ons destyds moes dra en wat ons windmaker haarstyle verberg het. Dit was toe nog ‘n groot sonde om sonder hoed in die kerk op te daag. Ek en my ma het elkeen ‘n fyn volstruisveerhoedjie gehad, sy ‘n swarte en ek ‘n spierwitte, wat destyds hoogmode was. Mode oftenot, ek het die hoed gehaat en het ‘n ritueel daarvan gemaak om die einste volstruisveerhoedjie op die vloer neer te gooi en ‘n paar keer daarop te spring, voordat ek dit weer netjies reggetrek het om kerk toe te gaan.

Nadat ek uit die huis is, het my ouers aangesluit by ‘n kerkorganisasie waar die dissipline so streng is dat vroue glad hulle hare mag sny nie. My ma het haar hare jare lank in ‘n bolla gedra en ons het vir die laaste tien jaar nogal ‘n stryd gehad om die haarnette en knippies te vind wat sy graag gebruik het om haar hare netjies te hou. Sulke dinge raak ook uit die mode en moeilik bekombaar. Dit het vir haar al moeiliker geword om haar hare self te was en te vleg en ‘n paar maande gelede het ek haar oorreed om haar hare te laat kort sny. Groot fout, want toe dring sy daarop aan om ‘n gebreide hoedjie te dra, dag en nag, om haar kop te bedek en haar hare ‘netjies’ te hou. Veral in die somer veroorsaak dit dat haar hare vinnig olierig en vuil word en dus meer dikwels gewas moet word. Boonop word haar hare bros en val plek-plek uit, omdat sy die hoed letterlik dag en nag dra. Sy weier om die hoedjie te verruil vir ‘n haarband of knippies of enigiets anders waarmee die hare weggebind kan word.

Die enigste uitweg waaraan ek kon dink, was om ‘n hele paar hoedjies te koop, sodat sy hulle gereeld kon omruil. Ongelukkig het sy ‘n fiksasie ontwikkel met een baie dik, wollerige, warm hoedjie en dis die enigste een wat sy wil dra. Die ander gooi sy gereeld in die vuilgoeddrom en vertel dan vir my dat dit ‘gesteel’ is. Ek red maar die rejects uit die vuilgoeddrom en bêre hulle in my kas. So elke nou en dan ‘steel’ ek die blou wolhoedjie en gaan was dit by die huis, maar ek moet dit dieselfde dag nog terugvat ouetehuis toe, want anders het die personeel geen rus of duurte nie.

Vandag, Kersdag, op die snikhete somermiddag, daag die blou wolhoedjie toe weer op vir middagete. Ek het die hoed verwyder, die hare gekam en vasgemaak met haarknippies, maar my ma het dwarsdeur die kersete geneul oor die hoed en haar hare wat in in haar gesig hang. Teen laatmiddag was ek al goed krapperig en stel voor dat my dogter vir Ouma ‘n fringe sny. Ouma is glad nie ongeneë nie en die hare word gesny. Ek let op dat haar hare nog steeds ‘n natuurlike krul het en mooi lyk so kort, maar ai tog, toe ons dit probeer droogblaas, spring elke haar orent. My dogter en ek staan verstar van skone skrik toe ons my ma sien met ‘n kuifie wat punt in die wind staan. Van al die jare se hoed dra het die hare nou ‘n wil en ‘n pad van hul eie.

Nou sit ons letterlik met ons hande in ons hare, want dis kersnaweek, alle haarkappers is met vakansie tot Maandag en Ouma lyk soos Bart Simpson, die strokiesprent karakter. Ek val oor my eie voete om die blou wolhoed oor die kuif te trek. Terug by die ouetehuis gaan vertel ek gou vir Matrone wat gebeur het en belowe om so gou as moontlik die hare ordentlik te laat ‘kap’; ek wil tog nie hê die mense moet dink dat ek my ma so mishandel dat haar hare regop staan nie.

Advertisements