Sleutelwoorde

, , , , ,

Hands

My ma was ‘n knap vrou waar dit by handwerk gekom het: brei, hekel, klere maak, haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Terwyl sy onlangs hier by my kuier, sit ons en kyk na ou foto’s. Ek wys ‘n foto uit van haarself waar sy twee gebreide poppies, verlede jaar by die ouetehuis se kermis gekoop, in haar ou hande koester. “Ai tog”, sê sy, “Ek het mos darem altyd mooi hande gehad; kyk nou hoe lelik en dom het hulle geword.”

My ma het vele van hierdie selfde soort poppies gebrei vir die siek kindertjies in Durban se Addington hospitaal totdat sy in haar tagtigerjare was, maar daarvan het sy al vergeet. Sy het vir my en haar kleindogter poppe gebrei en klein poprokkies gemaak. Nog lank voor dit het sy jare lank haar eie en haar hele gesin se truie gebrei. Ek onthou hoe sy altyd in die aand voor die kaggel en later die elektriese verwarmer gesit en brei het, die naalde al flitsende in die lig. Nou het die ou hande vergeet hoe om die breinaalde vas te hou en die steke te vorm.

Sy wys met ‘n kromgetrekte ou vinger na die gehekelde kleedjie op die tafel voor ons en sê-vra: “Dis ook een wat ek gehekel het, nie waar nie? Ek en my suster het by my ma geleer handwerk doen. Het jy geweet dat jou ouma ‘n opgeleide naaldwerkster was wat die mooiste manspakke gemaak het? Elke Nagmaalnaweek het die ou boere van die plase af dorp toe gekom om te trou of hulle kinders te laat doop en dan het jou ouma vir hulle kerkpakke gemaak; soms tot diep in die nag gesit en naaldwerk doen by lamplig, want dit was een van die vele maniere waarop sy ‘n geldjie verdien het om haar kinders te voed en te klee.” Nee, ek het dit nie geweet nie, want ek het nie my ouma geken nie; sy is dood nog voordat ek skool toe gegaan het.

Naaldwerk

Ek onthou wel my eie ma waar sy met haar ou Singer trapmasjien, by my ouma geërf en waarin my pa later ‘n elektriese motortjie ingebou het, ure lank gesit en klere stik het. Sy het al my klere gemaak, van my babaklere tot my rokkies waarmee ek universiteit toe is en daarna begin werk het. Ek wys vir haar ‘n foto van een van die pragtige blommemeisie rokkies wat sy vir my gemaak het. My ma was bekend vir haar naaldwerk en ek is ‘n paar keer gevra om ‘n blommemeisie te wees by troues toe ek so vyf, ses jaar oud was. “Omdat ek so oulik was”, spot ek. “Nee, dis omdat ek nooit geld aanvaar het vir hierdie rokkies wat ek vir jou gemaak het nie”, lag my ma. Dit was ‘n groot werk met baie detail waarvan die meeste per hand aangebring is. Sy het alles self gemaak, die rok, die skoentjies, die blommeruikertjie, die kransie vir die hare.

Sy het elke draad klere wat syself gedra het, met haar eie hande gemaak, tot sowat tien jaar gelede. My ma was lief vir klere maak en sy het graag mooi aangetrek. Ek onthou hoe sy haarself uitgedos het elke Sondagoggend vir kerk, kompleet met kerkhoed wat sy òf self gemaak òf gekoop en toe opgetoffie het. Dan het sy, trots op die aantreklike man aan haar sy en dogtertjie met ‘n popmooi rokkie aan, in die kerkpaadjie afgeseil met wit handskoentjies, elegante hoëhakskoene en bypassende handsakkie.

Verlede week het sy na ‘n ander ouetehuis toe getrek, nader aan my broer en sy vrou, wie nou grotendeels haar versorging gaan waarneem. Ek trek na ‘n ander provinsie toe en daar is nie geskikte geriewe vir my ma nie.

My ma het tasse vol klere; sy het nooit gekoopte kledingstukke verdra nie en het goed voorsiening gemaak vir die dag wat sy nie meer self haar eie klere sou kon maak nie. My dogter en ek versorg haar ouma se klere vir oulaas, elke draad waarvan sy self gemaak het in haar ‘jonger’ dae, om in te pak vir die trek. Elke kledingstuk word met sorg gewas, gestryk, los knope aangewerk en nate heelgemaak. Ek let op dat sy wel in onlangse jare so hier en daar herstelwerk aan die klere gedoen het. Die knope is egter skeef aangewerk, pas nie altyd bymekaar nie en die steke is onnet. Ons maak dit vir haar reg, want die ou hande onthou nie meer hoe om die werk te doen nie.

Ons sorteer haar persoonlike besittings uit: briefies wat sy geskryf en vergeet het om te pos, kaartjies wat sy ontvang het vir haar verjaardag en op Moedersdag, identiteitsdokumentasie, begrafnispolis, haar laaste instruksies aan my in verband met haar eie begrafnis. Tussen dit alles vind ek ‘n afskrif van my pa se begrafnisbrief. Ek wonder vir ‘n oomblik watter spesiale boodskap ek sou kies vir my ma se begrafnisrede en wat by my opkom is ‘n versie op een van die vele kaartjies wat sy versamel het:

Honor her for all that her hands have done, and let her works bring her praise at the city gate. Proverbs 31:31. (Holy Bible, New International Version).

Daarby sal ek my eie gedagtes voeg: Ma, jou hande sal altyd vir my mooi wees, want dit bevat al die spore van ons lewens, getuienis van die harde werk en die vele vreugdes wat ons sal onthou en oordra aan ons eie kinders.

Advertisements