Sleutelwoorde

, , , ,

SANY0018Ek het gister my ma vir die eerste keer weer gaan besoek nadat sy in die nuwe ouetehuis opgeneem is. Bykans drie weke het verloop vandat ek haar laas gesien het. In die motor op pad daarheen, het ek gewonder of sy my sou herken. En ek het gewonder hoe sy sou reageer – bly om my te sien? ontsteld omdat ek vir so ‘n lang tydperk nie daar was nie? sou sy my herken?

Die tehuis waar my ma voorheen gewoon het, is ongeveer twee kilometer van my huis af, sowat vyf minute per motor. In die beginjare het ek haar elke Saterdag of Sondag gaan haal om vir die dag by ons te kuier. Sy het altyd uitgesien na die kuiers en wanneer ek haar teruggeneem het, het sy soms grappenderwys gesê dat sy voel soos ‘n koshuisbrak wat na ‘n langnaweek op die plaas weer teruggestuur word skool en koshuis toe. Soos vir ‘n ‘koshuisbrak’, moes ek ook vir haar ‘n pakkie beskuit en koekies inpak en vrugte of lekkergoed.

Sy het aan die begin baie moeilik aangepas in die tehuis en het dit duidelik gestel dat die ‘oumense’ haar mal maak. Ek het hierdie stelling heel vermaaklik gevind, aangesien sy toe reeds meer as negentig jaar oud was, dus een van die oudste inwoners daar. Nog later het ek besef dat ons gereelde besoeke haar juis daarvan weerhou het om sosiale verhoudings in die tehuis te bou. Sy het geensins belanggestel in enige vermaak wat in die tehuis aangebied is nie en het nie vriende gemaak nie. Sy het meesal geweier om in die eetkamer te gaan eet, omdat sy volgens haar oordeel, niks met die ander inwoners in gemeen gehad het nie.

Dit het my ‘n rukkie gevat om te besef dat die kuiers by ons aan huis en die gereelde besoeke juis die oorsaak daarvan was dat sy nie op sosiale vlak ingeskakel het in die tehuis nie. Daarna het ek stelselmatig die kontak begin afskaal, en in die laaste jaar het ek opgelet dat sy fisies gemakliker was in die tehuis, omdat dit beter ingerig was vir die gerief van die inwoners as my huis. Daarna het ek haar selde meer uitgeneem, maar tog nog ‘n punt daarvan gemaak om haar een keer ‘n week te gaan besoek.

Soms het ons in die terrein se tuine gestap, maar meesal het sy verkies om in haar kamer te bly. Ek het ‘n paar boeke aangeskaf van skrywers oor die Namakwalandse streek, waar ons jare lank gewoon het, en dit saam met haar gelees terwyl ons albei op die haar bed gelê het met ‘n pakkie lekkergoed tussen ons. Ons het vroeër ook bekendes aangemoedig om by haar te gaan kuier, maar moes dit spoedig laat vaar toe ons besef het dat sy hulle nie meer herken het nie. Die besoeke het haar verward en ontsteld gelaat, en soms was sy ergerlik oor ‘die spul mense wat so ongevraag in en uit by haar kamer geloop het’.

Gister, by die eerste aanblik, het sy ‘n oomblik geaarsel asof sy nie seker is wie ek is nie; toe het die ou gesiggie verskrompel en sy het vir ‘n oomblik aan my vasgeklou terwyl die trane opgedam het in die blou-blou oë. Op my vraag hoe dit met haar gaan, het sy geantwoord: “Beter noudat ek jou weer sien”. Die normale reaksie, dus. Ek twyfel of sy werklik agtergekom het dat ek haar vir ‘n tydperk langer as die gewone week nie besoek het nie.

Ons het weer, soos gewoonlik, onsself op die bed tuisgemaak en geselsies aangeknoop, ‘n paar bladsye uit een van haar boeke gelees en oor die ou bekende grappies gelag. Haar gedagtes dwaal nou al hoe meer terug na haar kinderjare op Garies, maar die korttermyngeheue is duidelik besig om te verswak. Hoewel my broer vertel dat sy een of twee keer gevra het hoekom sy in ‘n nuwe tehuis geplaas is, het sy skynbaar reeds aangepas, tot so ‘n mate dat sy gister glad nie kon onthou dat sy voorheen elders gewoon het nie. Sy het minder as ‘n maand gelede verhuis.

Wanneer ek na ‘n foto van haar en my pa op haar bedkassie wys, sê sy ewe vrypostig dat hulle darem ‘n mooi ou paartjie was! Sy weet dus wie hy was. In die hoekie van die raampie is ‘n klein fototjie van my broer wat my skoonsuster daar gelaat het om seker te maak dat sy hom onthou. Sy sien haar seun nou meer dikwels as voorheen; tog vra sy my wie die persoon in die foto is en ek moet haar weer herinner. Sy besef self dat haar gedagtes tekortskiet en maak die aanmerking dat ‘n mens se lewe so vinnig verbygaan, sonder dat jy dit agterkom.

Dit was my laaste besoek aan haar voor my vertrek na Natal toe en ek mag haar dalk vir ‘n hele rukkie nie weer sien nie. Ek is doodgerus in die wete dat ek haar in goeie hande laat, maar tog kan ek nie help om vir ‘n oomblik lank te wonder of sy my sal onthou wanneer ek weer kom kuier nie.

Toe ek teen etenstyd daar weg is, het sy vriendelik en vrolik gegroet, net verneem wanneer my broer weer sou kom kuier – dus onthou sy tog haar kinders, hoewel haar geheue dalk net so nou en dan ‘n hupstootjie nodig het.

Advertisements