Sleutelwoorde

, , , , , ,

Vanoggend net na sonop gaan stap ek en my dogter langs die strand. Toe ons die uitgang deur die bos bereik en die kalm branders voor ons sien breek, en die son wat blink oor die water in die riviermonding, wonder ek ietwat afgetrokke oor die skepping van hierdie perfekte natuurskoon.

See

Op hierdie punt moet ek onmiddellik invoeg dat ek nie juis enige sterk godsienstige oortuigings het nie; om eerlik te wees, was verbintenis aan spesifieke kerkgenootskappe en denominasies, asook die verskil in godsdienstige praktyke altyd ‘n steen des aanstoots in my lewe.

Die gemeenskap waarin ons grootgeword het, het oorwegend aan een van die susterskerke behoort en alle ander kerk-organisasies is uitgemaak as ‘beelde-aanbidders’, ‘rivierdopers’ en ‘handjiesklap-kerke’. Die andersdenkendes (in soverre hulle dan nou ‘anders’ gedink het) het teruggekap met die beledigende ‘vingerdoper’. Soveel haat en nyd so vroeg reeds oor ‘n oortuiging wat veronderstel is om te handel oor liefde en verdraagsaamheid. Beide my ouers was fanaties oor hulle christenskap en christelike oortuiging, maar het net so hard en venynig geoordeel oor enige siening wat verskil het van dit wat hulle geglo het. Ek het bitter weinig liefde en verdraagsaanheid aan enige kant van die draad waargeneem.

Ons het aan een van die charismatiese kerke behoort wat so ‘n sterk sonde-beleid gevolg het, dat ek as kind amper te bang was om meer as my toegedele porsie suurstof in te asem. Alles, en ek meen letterlik ALLES waarin jong kinders van daardie jare belangstel het, is afgemaak as sonde.

Nie net was dans ‘n sonde nie, maar ook volkspele en enige musiek wat geklassifiseer kon word as dansmusiek; boeremusiek veral, was ‘n werklike euwel. As tiener in die laat sestigerjare het hierdie spesifieke soort sonde ‘n oorlog in ons huis veroorsaak, want dit was natuurlik die tydperk waarin rockmusiek koning gekraai het – Elvis Presley, Cliff Richard, die Beatles en Rolling Stones, noem maar op, dit was sonde. Dieselfde het gegeld vir Country en Western of enige soort musiek met ‘n effense ritme, of waar enige instrumente behalwe klaviere en orrels betrokke was; dit alles het direk gelei tot ‘n vlammedood in ‘n vuurwarm hel.

EkkeSo ook het kort rokkies (in die tydperk van mini-rokke!) en langbroeke gesneuwel as sonde. Kortbroeke vir meisies was nie eens aanvaarbaar om sport te beoefen nie. Swembroeke was ewe-eens taboe en ek was ‘n volle elf jaar oud voordat ek, onder druk van ‘n ou vriendin van my ma wat ook twee kinders van my ouderdom gehad het, toegelaat is om ‘n baie kuise swembroek aan te skaf.

Toe ek vyftien jaar oud was, het die broekiekouse (pantyhose) vir die eerste keer op die winkelrakke verskyn. Dit was die ouderdom waarop van meisies verwag is om sykouse aan te trek kerk toe, bo die knieë en onder die roksoom gehou met behulp van die haatlike suspender belt. Ek is op ‘n dag winkel toe gestuur om nuwe kouse te gaan koop en op aanbeveling van die winkelassistente het ek, baie waagsaam, vir my ook pantyhose aangeskaf. Sondagoggend het ek in aller yl aangetrek om klaar te maak vir kerk voordat my ma my voorkoms kom inspekteer en uitvind dat ek nie die gewone kouse aanhet nie, want ek was vas onder die indruk dat die dra van pantyhose, net soos langbroeke, groot sonde sou wees. Ek het die pantyhose weke lank weggesteek in my kas, totdat my ma op ‘n dag vir haarself ‘n paar aangeskaf het. Tot my groot verligting was dit blykbaar toe NIE sonde nie.

Ek het eers begin langbroeke en kort rokkies dra toe ek reeds op universiteit was. Daarvan het my ouers natuurlik niks geweet nie, want dit wat die oog nie sien nie, kon nie ‘n argument veroorsaak nie. Nadat ek uit die huis is, wat ek so gou as moontlik vermag het, het ek ontslae geraak van elke kledingstuk wat my sou weerhou van ‘n sondelose lewe, insluitende die kuise ouma-panties, die linnerokkies en die kerkhoed. Daardie ewige kerkhoed! Ek het dit gehaat met elke vesel in my liggaam en nadat ek uit die huis is, het ek daardie euwel vermy deur bloot nooit weer my voete in die kerk te sit nie, selfs nie nadat weggedoen is met die kerkhoed in meeste kerke nie. Tot vandag toe weier ek nog steeds om enigiets anders as langbroeke, broekpakke, jeans en deesdae se halfmas-kortbroeke te dra.

Die grootste moontlike sonde egter, was om ‘oor te loop’ na ‘n ander kerkgenootskap toe. In daardie dae het die skool en die Voortrekkerbewing die geloofsbelydenis van die susterskerke gevolg en daar is meermale van skoolkinders en Voortrekkertjies verwag om kerkdienste in die NG Kerk (die grootste kerkgebou in die dorp) by te woon. SONDE! Ek moes met groot omsigtigheid seker maak dat niemand my in die kerkgebou of –saal sien insluip nie.

Ek was dus ietwat verbaas (om die minste daarvan te sê), toe my skoonsuster die ander dag ‘n foto geneem het van my ma en die predikant wat haar besoek het in die ouetehuis. Blykbaar was sy heel in haar skik met die besoeker en het entoesiasties deelgeneem aan die Bybelvoorlesing en gebed.

Dalk, wanneer jy aan die einde van so ‘n lang reis deur die lewe kom, raak ander oortuigings minder belangrik en groot sondes raak onbeduidend. Dan is die see, die rivier en die groen bos net ‘n bevestiging daarvan dat die skepping bedoel was om te deel en te geniet, sonder enige struwelinge.

Advertisements