Sleutelwoorde

, , , , ,

‘n Inskrywing wat ek gister gelees het, het my skielik laat dink aan die dag toe ek en my ma ‘n peperboom gekoop het. 1

peperboom3

My ma was by die dag toe ek ‘n huis gaan soek het. Ek wou wegkom uit die stadsgewoel. En ek wou ‘n tuin hê. Toe die huisagent voor die huis met die toegegroeide heining stilgehou het, het my moed in my skoene gesak; ek kon nie eens die huis deur al die rankplante sien nie. Nòg ‘n bloutjie geloop. “Kyk”, sê my ma skielik, “kyk net na daardie yslike peperboom”. ‘n Halfuur later was die koopkontrak vir die huis geteken. Die peperboom was myne. My man het altyd gespot dat ek die boom gekoop het nog voordat ek die huis gesien het.

Ek het in Namakwaland grootgeword waar my ouers vir baie jare gewoon het. Daar in ons groot erf het my pa bloekombome geplant, al langs die heining af, om die suidoostewind af te keer uit sy groentetuin. Dit was my eerste bewuswording van bome. Bloekombome, peperbome en kokerbome is waarmee ek grootgeword het.

Na ons trek Johannesburg toe, het ons noodgedwonge vir twee jaar in ‘n woonstel gewoon, gerieflik naby die Afrikaanse hoërskool wat my dogter bygewoon het. Daar was ‘n groot park oorkant die woonstelgebou en naweke het ons geboer in die omringende natuurreservate, by piekniekplekke en in botaniese tuine. Maar ek wou graag my eie grondjie hê en dit was dus ‘n groot verligting toe ons na die matriekeksamen na ‘n klein dorpie aan die buitewyke van die stad kon trek. Ek het nie eens omgegee om elke dag honderd en meer kilometers werk toe te ry nie.

Die huis was taamlik verwaarloos en van ‘n tuin was daar nie veel sprake nie. In die twaalf jaar wat ons daar gewoon het, het my man met groot toegewydheid en harde handearbeid die woonhuis uitgebou, aangebou en gemoderniseer. Daarby het hy ‘n pragtige tuin uitgelê – al rondom die groot peperboom, want dit was vir my steeds die brandpunt van ons huis en die tuin. Terwyl al die bure rondom ons hulle groot bome laat verwyder het om aan te bou en meer sonlig in te laat, het ek soos ‘n steeks donkie geweier om die boom te laat uithaal. Hoewel die boom se skadu oor die dak geval en die winterkoue vererger het, en die fyn blaartjies en bessies die geute verstop het in die reëntyd, het die boom bly staan en gedy.

peperboom1

Ons het baie in die koelte van die boom gekuier. Vanuit haar kamervenster het my ma ‘n mooi uitsig op die tuin en die boom gehad. Sy het haar altyd verwonder oor die skadupatrone wat die takke en blare in die laatmiddagson of die vroeë oggendure oor die grasperk geverf het, oor die voëls wat heeldag in die takke gekwetter het, oor die bye wat in die vroegsomer saamgedrom het om stuifmeel bymekaar te maak sodat die boom geklink het soos ‘n besige byenes en oor die duiwe wat snags daar in hulle neste geslaap het. In slegte weer het rukwinde die onderste slierte van die takke opgewaai soos ‘n outydse dansrok wat die onderrok ontbloot het, sodat die hele boom later gestaan en wiegdans het.

Dit was heerlik om huis toe te kom na ‘n lang middagrit van die middestad waar ek gewerk het en die boom daar te sien staan in die poel skaduwee wat hy oor die groot grasperke gegooi het. Van die straatkant af het dit gelyk soos ‘n koel oase.

Ons het so dan en wan die boomdokter ingekry om die boonste takke korter te saag en die stamme te ondersoek vir krake of siektes. Die boom, waarvan hy die ouderdom tussen tagtig en honderd jaar geskat het, het egter kerngesond gebly. ”Ek wonder tog”, het my ma meermale gewonder, “watter stories die ou boom sou vertel het as hy kon praat”. Dan het ons stories geweef oor die boer wat oorspronklik die boom geplant het voor sy plaasopstal, wat ons geweet het voorheen daar naby was; ons het met die tuinmakery nog op van die ou fondasies afgekom. Ons het gewonder of die boer en sy gesin saans in die skaduwee van die boom gesit het na ‘n warm dag se werk, soos wat ons gedoen het.

Later jare, toe my ma in die ouetehuis was en naweke by my kom kuier het, het sy dikwels na die boom gesit en staar. Nog later, toe sy pal in die ouetehuis gebly en nie eintlik meer by ons besoek afgelê het nie, het sy nog steeds uitgevra na die welstand van die boom. “Wat sou deur die ou boom se kop gaan? Watter stories het hy om te vertel?” Dit het later by haar ‘n refrein geword wat sy elke paar minute gedurende die kuier sou herhaal, so asof dit iets is wat pal in haar kop vasgesteek het.

Ek het my ma meer as twee maande laas gesien. Ek wonder of sy nog terugdink aan die boom en of sy regtig besef dat die boom nie meer aan ons behoort nie. Nie baie mense verdra so ‘n groot boom in hulle erf nie en ek dink dat die nuwe eienaar wat vroeër die jaar die huis by ons gekoop het, die boom sal laat uithaal. Hy staan juis op ‘n plek waarheen die huis met gemak uitgebou kan word.

Wanneer ek terugdink aan die huis, is dit altyd die boom wat in my gedagtes opkom. En ek wonder of hy nog staan. En ek wonder wat hy sal dink en voel as hy die dag uitgekap word.

Ma, onthou jy nog die peperboom?

Ma, onthou jy die dag wat ons ‘n boom gekoop het?

Ma, ek dink wat ek eintlik wil weet is – onthou jy my nog?

Voetnota

1. Baai Baai Bloemkomboom deur Lewies Mymer

Advertisements