Sleutelwoorde

, ,

Toe is my ma weg die naweek na Moedersdag.

Ek was hierdie jaar vir die eerste keer in jare nie op Moedersdag by my ma nie, want ek het reeds reëlings getref om die naweek daarna Johannesburg toe te vlieg vir ‘n besigheidsaangeleentheid. Ek het gedink dit sal nie saak maak as ons Moedersdag ‘n week later vier nie; haar geskenkie was reeds in my tas – die skulpies en strandklippies wat ek haar belowe het. Maar ek was verkeerd en een week te laat.

Met die afklim van die vliegtuig af laat die Vrydagmiddag het ons ‘n boodskap gekry dat dit “nie goed gaan” met my ma nie en ons is direk van die lughawe af na die ouetehuis toe. In haar bed het sy gelê met haar oë styf toe, ‘n klein bondeltjie mens, so lig dat ek haar kon optel om die komberse om haar los te draai. Ek wou die komberse afhaal om te sién, te weet dat dit my ma was.

Sy het nie gereageer toe ek met haar gepraat het nie, ook nie toe ek met my vingers op haar borsbeen getrommel het nie. Ek het gedink dat ek haar ooglede moes oopmaak, sodat sy my kon sien en wakker word. Watter mal gedagte! Toe ek my hand op haar wang gesit het, het dit koud gevoel, so glad en styf soos was. Tog het haar bors nog op en af gedein – waar daar asem was, moes daar tog nog lewe wees? Ek het aangehou met roep, totdat ek besef het dat ek die ander pasiënte steur.

Ek het haar weer toegevou in die komberse en met die saalsuster gaan praat. Ek wou hê dat sy moes sê my ma het net ‘n slegte dag gehad, dat sy weer sou beter word, en sy hèt probeer om die wete te verlig met haar woorde. Ek wou net nie die waarheid in haar oë raaklees nie.

Was my besluit om te gaan inboek by die hotel en die volgende dag weer terug te kom onnosel of in opstand teen die feit dat ek diep binne-in my geweet het dat my moeder sterwend was? Niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie en nie wil verstaan nie. Sy is oorlede kort nadat ons by die hotel aangekom het.

Nou sit ek en wonder: Het sy geweet dat ek by haar was? Het sy vir my gewag om te kom? Hoekom het ek haar nie behoorlik gegroet nie, of langer by haar gebly nie? Hoekom het sy nie net lank genoeg gewag om eenkeer weer met my te praat nie?

Sy het ‘n dagboek nagelaat, een wat sy geskryf het in die tydperk net nadat sy in die ouetehuis ingetrek het. Ek het nog nie die moed gehad om dit te lees nie.

Ek het 63 jaar lank ‘n moeder gehad.

Hierdie was my laaste “wit strikkie” Moedersdag; volgende jaar moet dit ‘n pers strikkie wees.

Advertisements